Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 3 FEBUARIE 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van F.J. (Koos) Brink, ZS6AFJ, van Klerksdorp onlangs stil geraak het. Koos laat sy vrou Lettie, asook ’n seun Andries, ZR6AJ, en dogter Poppie agter.

Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

ZR-AMATEURS GEWAARSKU OM SLEGS BINNE DIE TOEGELATE FREKWENSIESPEKRUM TE OPEREER

BACAR GAAN TEEN EINDE MEI OF VROEG JUNIE VLIEG

BESONDERHEDE VAN DE WES-KAAP RTA NOU OP DIE WEB

STERREKUNDE GEOGRAFIESE VOORDEELWET BINNEKORT GEPROMULGEER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

ZR-AMATEURS GEWAARSKU OM SLEGS BINNE DIE TOEGELATE FREKWENSIESPEKRUM TE OPEREER

Die SARL-Raad is besorg oor ZR-amateurs wat buite die gedeeltes van die bande waarvoor hulle gelisensieer is opereer. Die SARL het ’n aantal berigte ontvang oor ZR-lisensiehouers wat op die 20 meterband buite hul toegelate segmente opereer. Dit is ’n oortreding van lisensievoorwaardes en kan lei tot kansellasie van die lisensie.

ZR-lisensiehouers mag in die volgende segmente van die 20 meterband opereer:
14 070 - 14 099 kHz Gelykgolfdeel van die band en 14 225 - 14 250 kHz Foondeel van die band.

Die ander ZR HF-segmente is:
160 meterband 1 810 - 1 850 kHz;
80 meterband 3 500 - 3 800 kHz;
40 meterband 7 000 - 7 100 kHz;
15 meterband 21 070 - 21 120 kHz en 21 300 - 21 450 kHz;
10 meterband 28 050 - 28 150 kHz en 28 300 - 28 500 kHz.

BACAR GAAN TEEN EINDE MEI OF VROEG JUNIE VLIEG

Tydens die eerste SA AMSAT-BACAR-2008-vergadering gehou in die SARL Nasionale Amateurradiosentrum in Gauteng is besluit om BACAR in die tydgleuf van laat Mei tot vroeg Junie te lanseer. ’n Aantal moontlike loonvragte word deur lede van die aanvanklike span ondersoek. Die volgende BACAR-vergadering sal op Saterdag 23 Februarie 2008 om 11:00 in die NARS gehou word. Die loonvragte wat oorweeg word is ’n APRS-stelsel, ’n 2 meter- en 40 meterbaken wat temperatuur en lugdruk uitsaai en ’n papegaaiherhaler. Besoek www.amsatsa.org.za vir meer besonderhede en inligting oor hoe om by die projek aan te sluit.

BESONDERHEDE VAN DE WES-KAAP-RTA NOU OP DIE WEB

Die program van die Wes-kaap-RTA is nou op die web beskikbaar. Die eerste RTA van 2008 sal op Saterdag 8 Maart in die Kaapstadkampus van die Skiereiland Universiteit van Tegnologie plaasvind.

Die program skop af met ’n paneelbespreking oor die vooruitsigte vir die volgende 5 jaar van amateurradio. Daarna volg aanbiedinge oor Spreispektrum, WiFi in amateurradio, Ruimteweer en HF-voortplanting vir amateurradio. Aan die praktiese kant is daar aanbiedinge oor APRS en hoe om ’n kragbron van begin af te bou.

Die SARL se oogmerk vir die RTA is om radioamateurs en ander wat in elektronika belangstel insig te gee in die nuwe tegnologieë wat amateurradio die toekoms gaan inlei. Alhoewel sommige van die titels intimiderend mag klink, is die aanbiedinge op ’n praktiese vlak gerig om byval te vind met alle bywoners.

STERREKUNDE GEOGRAFIESE VOORDEELWET BINNEKORT GEPROMULGEER

Daar word verwag dat die Sterrekunde Geografiese Voordeelwet binnekort onderteken en van krag sal word. Die nuwe wet verleen aan die Minister van Wetenskap en Tegnologie wye magte om gebiede waar die Vierkantkilometeropsteling waarskynlik gevestig sal word, tot radiofrekwensie beperkte sones te verklaar. Plattelandse dele van die Noord-Kaap sal hoofsaaklik geraak word. Terwyl hierdie wet streng mag voorkom, is daar ’n aantal meganismes ingebou om ander radiospektrumgebruikers te raadpleeg.

Die SARL het ’n onderhoud gevoer met Adrian Tiplady, die SKA-projekleier vir radiofrekwensiesteuring om die invloed van die projek op amateurradio duidelik te maak. Die onderhoud sal later vandag op Amateur Radio Mirror International uitgesaai word. Die program kan om 10:00 SAT op 7 082, 7 205 en 17 570 gehoor word. Dit word ook op die web gestroom. Besoek www.sarl.org.za klik op Publikasies en volg die skakels na ARMI.

RADIO ZS

Die redakteur van Radio ZS nooi lede uit om material te verskaf vir publikasie in die ses uitgawes vir 2008. Artikels kan in MSWord- of teksformaat gestuur word. Foto's en grafika moet asseblief apart gestuur word. Stuur jou bydrae per e-pos aan radiozs@sarl.org.za of per slakkepos aan Dennis Green, Posbus 12 104, Brandhof, 9324.

KOMPETISIENUUS

SARL-HF-VELDDAG

Die eerste skof van die SARL-HF-Velddag begin om 10:00 UTC op Saterdag 9 Februarie en eindig 24 uur later. Foon en GG kan gebruik word in die kompetisiebande van 160 tot 10 meter. Deelname kan as 'n multi-operateur veldstasie, enkeloperateur veldstasie of algemene stasie wees. 'n Algemene stasie word gedefinieer as 'n stasie wat nie aan die vereistes van 'n veldstasie voldoen nie. 'n RS- of RST- verslag en deelnameafkorting word uitgeruil; S vir enkeloperateur, M vir multioperateur of G vir algemene stasies.

Die volledige reëls is beskikbaar in die 2008 SARL-Kompetiesiehandboek, wat vanaf www.sarl.org.za afgelaai kan word.

BHF/UHF-SPRINT

Die eerste BHF/UHF-Sprint sal vanaf 14:00 tot 15:00 UTC op Sondag 24 Februarie plaasvind. Die uurlange sprint vind plaas op 2 meter en 70 sentimeter. Die reëls is in die 2008 SARL-Kompetiesiehandboek.

KLUBNUUS

SANDTON AMATEURRADIOKLUB BIED RAE-KURSUS AAN

Op Woensdag 2008:02:06 om 19:00 gaan die Sandton Amateurradioklub, begin om ‘n RAE-kurses by die NARS aan te bied. Indien enige persoon belangstel om die kursus by te woon, kan hulle vir Mark Zank, ZS6YES, kontak op 083 367 8943 of per e-pos na zs6yes@gmail.com. Die volledige skedule kan van hulle webwerf afgelaai word. Die adres is www.zs6stn.org.za en volg die RAE-skakel.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees behalwe gedurende 9 tot 10 Februarie wanneer onrustige vlakke verwag word. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 10 wees.

Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noord-Oos en Noord-Wes paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings. 15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 08:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike kort, flou 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 19:00 is daar moontlike flou 15, 20 en 80 m-openinge na die VSA.

10 MHz lyk na sonsonder baie belowend vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goeie resultate oor die langer afstande te lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

6 Februarie - Sandton Amateur Radio Klub RAE kursus begin;
9 en 10 Februarie - SARL HF-velddag;
16 Februarie - Sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-toekennings;
24 Februarie - BHF/UHF Sprint;
8 Maart - RTA in Kaapstad.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003